Swellendam, Western Cape, South Africa
Biografie
Gebore op Bruintjieshoogte, ook Bruintjiesrivier genoem; sterf in sy huis op Rheenendal,, dist. Swellendam; begrawe Saterdag, 6 Julie 1903. Nog nooit tevore was daar soveel mense by ’n begrafnis op Swellendam nie. Draers was sy seun en daarna kerkraadslede; bekend as Frikkie; boer op Voorrechtsvlei, ook bekend as De Vley en grens aan die Klip- en Keurboomsriviere, 4 myl buite Swellendam op die Robertson pad. Later gaan boer hy op Nooitgedacht, eers genoem Jan Harmsgat, 18 myl van Swellendam op pad na Ashton. In 1732 het die leenplaas in besit van Jan Harmse gekom. In 1743 kom Botha in besit van die plaas. In 1789 word Pres. Steyn (president van die Republiek Swellendam) eienaar van die plaas. Frederik Jacobus van Zyl, groenteboer en skoonseun van Pres. Steyn, verander die naam na Nooitgedacht, en dit word die grootste wynproduserende plaas in die Kolonie. Volgens oorlewering het Frikkie Nooitgedacht in 1883 vir plus-minus R5 000 op die bankrot vendusie van Frederick Jacobus van Zyl gekoop met geld wat hy by ene Swart op Swellendam geleen het. Van Zyl het ook op die aangrensende plaas Sanddrift geboer, wat hy darem behou het na sy uitverkoping. Met die aankoop van Nooitgedacht het Frikkie ’n heenkome bewerkstellig vir baie van sy nakomelinge, soveel so dat in 1998 lede van sy vyfde geslag nog op ’n gedeelte van Nooitgedacht geboer het. Hy het van Voorrechtsvlei na Nooitgedacht getrek en die opstal bewoon wat die naaste aan die Swellendam-Aston grootpad was wat deur die plaas geloop het. Na hom het nog vier van sy naastes in dieselfde opstel gewoon. Die boonste deel van Nooitgedacht, wat later Mardouw genoem is, het hy aan sy seun Japie afgestaan. Na Japie volg vier van sy naastes, van wie twee in 1998 steeds op Mardouw boer, aangesien twee wonings reeds aangebring was. Die opstal langs die plaaspad na Bergvallei word deur sy kleinseun, Frederik bewoon. In die opstal genaamd Bergvallei, onderkant die regter groot dam, het sy kleinseun Pieter gewoon. Heel regs van Nooitgedacht, aan die voet van Goudkop, het sy kleinseun Jakob gebly. Op die onderste gedeelte van Nooitgedacht en langs die Koringlandsrivier is ’n opstal waar Frederik Jacobus (Chinaman), nog ’n kleinseun van hom, gebly het. Op die linker onderste deel van Nooitgedacht is ’n opstal wat met ’n plaaspad verbind is met die Stormsvlei pad, waar sy dogter Ellen en haar man, Jacobus Coetzee, geboer het. Dele van Nooitgedacht het sedertdien aan verskeie eienaars behoort, te wete Matthee, Van Zyl, Rebstein en Park. Volgens oorlewering is hy in sy huis op Rheenendal oorlede, dus moes hy na Nooitgedacht op Rheenendal gaan boer het. Rhenendal is ’n deel van die groter plaas Keurbomen, volgens een vertelling aangekoop deur ene van Rheenen, wie die naam aan die plaas gegee het. ’n Tweede oorlewering is dat die stamvader en sy eerste vrou afkomstig was uit die gemeente Rhenen, in die dorp Rhenen in Nederland, en dat dit aanleiding gegee het tot die naam van die plaas. Frikkie het ’n wateraangedrewe meule langs die Keurboomsrivier opgerig. Die meule staan vandag nog en is deur die destydse presidentsvrou, mevrou Elise Botha, tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en geopen. Hy is beskryf as die man met die grootste grondhonger in die Overberg, want hy het in sy leeftyd nege plase besit, by name Voorrechtsvlei, Nooitgedacht, Rheenendal, Allemorgensfontein, Spitskop, Rietkraal, Grootvlakte, Stinkfontein en Touwsfontein. Die laaste ses plase grens aanmekaar en is geleë aan die Groot Karoo se kant, in die rigting van Touwsrivier, tussen Montagu en Touwsrivier. Hy was lid van die Kaapse parlement en het vir twee jaar die Swellendam-kiesafdeling as lid van die laerhuis gedien, en daarna vir twaalf jaar die Suid-Oostelike Provinsie as lid van die Hoërhuis. Tot 1902 was hy LV vir Swellendam en het slegs ’n paar maande voor sy dood as lid van die Uitvoerende Raad bedank. In die tyd toe hy gebonde was aan die twee huise, het hy getoon dat hy ’n groot man was op politieke en staatkundige gebied. Die kiesers was altyd seker dat as hulle iets aan hom opgedra het om in hulle belang deur te voer, hulle nooit teleurgestel sou word nie, want hulle het ’n onfeilbare vertroue gehad in sy ondernemingsgees en uitvoerkragte.
Familie van Frederik Jacobus van Eeden
(a1b4c5d3e1f5)